Vertaal deur Helmut Burger


pdfIcon - PDF Version


Die wêreld huldig verskeie menings oor wie en wat `n "Christen" is of nie is nie. Sommige dink `n Christen is iemand wat uit `n Christelik-belydende gesin gebore is en deur `n priester of predikant gedoop is. Ander sê weer `n Christen is iemand wat "sy hart aan die Here gegee het" en "wedergebore"is - of selfs, iemand wat slegs daarop aanspraak maak om `n Christen te wees.

Kan dit egter gebeur dat iemand kan lewe en sterwe, aannemende dat hy of sy `n Christen is - net om in die Oordeel uit te vind dat God nooit hulle weergawe van "Christelikheid" erken het nie? Christus het, inderwaarheid, aangaande die einste moontlikheid gewaarsku in Mat. 7:21-23.

Wat maak waarlik van `n mens `n Christen? Hoe beskryf GOD `n Christen in Sy geïnspireerde woord - die Bybel?

Ernstige volgelinge van Christus sal hulle Bybels ywerig bestudeer om die ware definisie van `n Christen te verstaan - en om seker te maak dat hulle, inderdaad, ware Christene is (II Tim. 3:15-17). Hulle sal hulle verstand en hart daarop sit om God die Vader en Jesus Christus met hulle hele hart en hele verstand en al hulle krag lief te hê (Mrk. 12:28-30). Hulle sal hulle daarop toelê om deur elke woord van God te lewe (Mat. 4:4; Luk. 4:4; Deu. 8:3). en om  alle dinge teen die Skrif te toets (I Ths. 5:21; Hnd. 17:10-12).

Nie Langer Onder die Straf vir Sonde Nie a

Deurslaggewend tot begrip van die Bybelse definisie van `n Christen is die feit dat alle mense sondaars was, onsself ingesluit (Rom. 3:23). Die straf vir sonde is permanente dood (Rom. 6:23). `n Christen is iemand wat tot die besef gekom het dat hy of sy onder daardie doodstraf was en `n Verlosser nodig  gehad het. `n Christen verstaan dat Jesus Christus daardie straf betaal het deur aan die kruis te sterf terwyl Hyself volkome onskuldig aan enige sonde was  (II Kor. 5:21; I Joh. 2:2, 4:10; Opb. 1:5, 5:9).

`n Christen leer, presies wat, sonde is - en wat die doodstraf in die eerste plek oor hulle gebring het. Weereens het die wêreld sy eie idees oor wat sonde is of nie is nie maar die Bybel definieer sonde vir ons as wetteloosheid, ("transgression of the law", vlg. die KJV, dus, "oortreding van die wet " van God), (I Joh. 3:4).

`n Ware Christen is derhalwe iemand vir wie die bloed van Jesus Christus se offerdood aangewend is - maar slegs nadat hulle hul sondes erken het en tot inkeer ten aansien van hulle sondes gekom het, (teenoor God die Vader), en Christus as hulle persoonlike Verlosser aanvaar het (Hnd. 3:19, 2:38; Esg. 18:21-23). Bekering beteken letterlik `n verandering in denke en gesindheid asook `n volkome verandering in optrede. Met bekering draai `n mens letterlik weg van die weg van sonde, (oortreding van God se wet), wat na die dood lei, (Spr. 14:12, 16:25; Mat. 7:13), en begin mens om op die weg van God te wandel - die ware, Christelike lewenswyse (Joh. 14:4-6; Hnd. 16:17, 18:25-26; I Joh. 2:3-6).

Om in God se Genade te Lewe

Ten einde `n Christen te word moet mens deur volle onderdompeling in water in die naam van die Vader, die Seun en die Heilige Gees, in, gedoop word. Na hande-oplegging (Heb. 6:2), ontvang die nuwe bekeerling die gawe van die Heilige Gees vanaf Christus en die Vader, waardeur mens as `n nuwe skepping in Jesus Christus verwek word (Mrk. 1:8; Hnd. 2:38, 8:14-17; II Kor. 1:22; I Joh. 3:9, 22-24).

Deur eenvoudig in Jesus Christus en in Sy naam te glo, mens van sonde te bekeer en God die Vader om vergifnis te vra,kom mens onder die reddende  genade van God (Rom. 3:23-26, 6:23). Hierdie genade, (wat so kosbaar is!), is die gratis gawe van God - heeltemal onverdiend deur enigiemand. Geen mate van moeite kan ooit naastenby hierdie gawe van God se guns verdien nie. Om "`n goeie mens" te wees kan nie vir mens redding verdien nie, want, God "skuld" redding aan niemand nie! "Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God; nie uit die werke nie, sodat niemand mag roem nie" (Efs. 2:8-9).

Wanneer dan gedoop, en na ontvangs van die gawe van God se Heilige Gees - wat behoort die nuwe bekeerling dan te doen? Kan `n ware Christen steeds soos vantevore bly leef? Beteken, "om onder genade te wees", dat `n mens kan terugkeer en weer die dinge waarvan mens veronderstel is om jou van te bekeer het, te beoefen? Verseker nie! Die apostel Paulus maak dit duidelik dat mens nie mag voortgaan om in sonde te lewe nie - om voortdurend die wette en gebooie van God te oortree nie. Let op Romeine 6:1-3: "Wat sal ons dan sê? Sal ons aanhou sondig sodat die genade meer kan word? MAG DIT NOOIT WEES NIE! Ons wat die sonde afgesterf het, hoe kan ons nog langer daarin lewe? Of begryp julle nie dat ons, soveel as wat in Christus Jesus gedoop is, in Sy dood in gedoop is nie?".

`n Nuwe Lewe in Christus

Let op hoe Paulus inRomeine ses die nuwe lewe van `n ware Christen beskryf. "Want as ons saam een geword het in die gelykvormigheid van Sy dood, so sal ons ook gelykvormig wees in Sy opstanding, aangesien ons weet dat ons ou mens saam met Hom gekruisig is sodat die liggaam van sonde tot niet gemaak kan word, ten einde nie meer langer aan sonde verslaaf te wees nie. Want die een wat dood is vir die sonde, is geregverdig van die sonde. As ons dan saam met Christus gesterf het, glo ons dat ons ook saam met Hom sal lewe, want, ons weet dat Christus, nadat Hy opgewek is uit die dood nie meer sterf nie, die dood heers nie meer oor Hom nie. Want toe Hy gesterf het, het Hy eens en vir altyd vir sonde gesterf, maar die lewe wat Hy leef, leef Hy vir God. Netso behoort julle julleself as dood vir sonde te ag maar lewendig vir God deur Christus Jesus ons Here. Moet daarom nie toelaat dat sonde in julle sterflike liggame heers deur dit in die luste daarvan gehoorsaam nie. Julle moet julle ledemate eweneens nie tot beskikking van sonde as werktuie van ongeregtigheid stel nie, stel julle eerder tot beskikking van God as diegene wat uit die dood lewend geword het, en julle ledemate as instrumente van geregtigheid in diens van God" (Rom. 6:4-13).

In beide die gelykenis van die ponde, (Lu. 19:11-27),  en die gelykenis van die talente, (Mat. 25:14-30), maak Christus dit duidelik dat, nadat mens `n gawe van God ontvang het, mens nie daarop moet sit of dit begrawe nie - maar om daarop te bou, dit te vermeerder. Christene moet geestelik groei om altyd meer en meer soos Jesus en die Vader te word (II Pet. 1:3-11, 3:18; Efs. 4:11-13, 5:1). Met hierdie doel voor oë bestudeer die ware Christen sy of haar Bybel gereeld, (II Tim. 2:15), om te leer om die voorbeeld wat Christus gestel het toe Hy op aarde was, te volg (Joh. 13:15, 14:6; I Pet. 2:21; I Joh. 2:6). Op hierdie manier lei God mens deur die krag van Sy Heilige Gees en skep Hy in elke ware Christen Sy goddelike karakter, (Efs. 2:10), en die gesindheid van Christus (Fil. 2:5).

Christus se Voorbeeld Wys die Weg aan.

Wat was die voorbeeld watJesus Christus vir Sy volgelinge gestel het? Om mee te begin; Hy het die gebooie van Sy Vader volkome uitgevoer, (Joh. 15:10). Sy lewensvoorbeeld was egter nie slegs `n wettiese, letter-van-die-wet gehoorsaamheid nie, dit was gehoorsaamheid vanuit die hart want Hy het die Vader met Sy hele wese lief gehad. `n Ware Christen moet God die Vader en Jesus Christus met sy hele hart, sy hele verstand, sy hele siel en met al sy krag lief hê - wat die grootste gebod van almal is (Mat.22:37-40). In hierdie skrifgedeelte verklaar Jesus dat LIEFDE, hetsy vir God of naaste, die basis vorm van die hele geestelike wet van God. Elke voorskrif van die wet vertel ons eintlik maar net hoe om lief te hê. En ook, daar is `n gees en bedoeling onderliggend tot elke wet en opdrag van God - en daardie bedoeling word ten beste opgesom in een woord, LIEFDE. Wanneer God vir ons sê om iets te doen, (of nie te doen nie), is Sy beweegrede daarvoor altyd liefde (I Joh. 4:8).

In die bergpredikasie, (Mat. 5, 6, 7), het Christus `n oorsig gegee van hoe die gees en bedoeling van die wet uiting vind in persoonlike lewenswandel. Geloof in die beginsels wat Hy geleer het is egter nie genoeg nie - want hulle is van geen waarde nie TENSY mens hulle toepas en daarvolgens leef nie, Mat. &:24-27). `n Ware Christen - wat God lief het en wat weet dat Sy wette op liefde gebasseer is - sal in geloof uit die hart uit gehoorsaam wees, wat Hy ookal van hom of haar  vra, (Joh. 14:15; I Joh. 5:3). `n Christen se gehoorsaamheid sal ook nie op vrees gebasseer wees nie, (vrees om saligheid te verloor nie, ens.), ook nie omdat dit hulle iets sal "verdien"nie - maar sal gemotiveer word deur hulle liefde tot God en omdat hulle verstaan dat hartgrondige gehoorsaamheid hulle in staat stel om meer en meer soos God die Vader en Jeus Christus te word.

Baie mense dink ongelukkig verkeerdelik dat liefde en gehoorsaamheid aan God se gebooie op een of ander manier teenoorgesteldes is - teenoor mekaar staan. Niks is verder van die waarheid verwyder nie! Baiemaal sal mense wat daarop aanspraak maak dat hulle Christene is sê dat hulle "die Here lief het", of, dat hulle "die Here ken", en tog versuim om Hom te gehoorsaam. Die apostel Johannes het `n antwoord vir sulke mense. "En aan hierdie maatstaf  weet ons dat ons Hom ken: as ons Sy gebooie bewaar [gehoorsaam]. Hy wat sê, ' Ek ken Hom ', en Sy gebooie nie bewaar [gehoorsaam]nie, is ‘n leuenaar en in hom is die waarheid nie. Maar elkeen wat Sy woord bewaar [gehoorsaam], in hom word die liefde van God waarlik vervolmaak. Hieraan weet ons dat ons in Hom is. Hy wat sê dat hy in Hom bly, behoort self ook so te wandel soos Hy gewandel het." (1Joh. 2:3-6).

`n Gees-geleide Lewe

Baie kerkgangers meen hulle is alreeds taamlike goeie mense. Die apostel Paulus egter - nadat hy verhaal hoe dat hy ook gedoen het wat nie reg is nie - het van homself gesê, "Ek, ellendige mens!" (Rom. 7:14-24). Hoekom het `n heilige apostel en man van God homself, "ellendig", genoem? Omdat hy verstaan het dat sy eie menslike natuur nie goddelik was nie - en hy eerlik en nederig genoeg was om dit te erken. Net so het hy erken dat - selfs na sy bekering - sy ou vleeslike aard hom steeds tot sonde gelei het waaroor hy tot inkeer moes kom en vergifnis voor moes vra.

Let op sy verduideliking van menslike natuur in Romeine 8:7-14: "omdat wat die vlees [die verstand van die onbekeerde] bedink, vyandskap teen God is; want dit onderwerp hom nie aan die wet van God nie, want dit kan ook nie. En die wat in die vlees is, kan God nie behaag nie; julle is egter nie in die vlees nie, maar in die Gees, as naamlik die Gees van God in julle woon. Maar as iemand die Gees van Christus nie het nie, dié behoort nie aan Hom nie. Maar as Christus in julle is, dan is die liggaam dood vanweë die sonde, maar die Gees is lewe vanweë die geregtigheid. En as die Gees van Hom wat Jesus uit die ode opgewek het, in julle woon, dan sal Hy wat Christus uit die dode opgewek het, ook julle sterflike liggame lewend maak deur Sy Gees wat in julle woon. Daarom dan, broeders, is ons skuldenaars, nie aan die vlees om na die vlees te lewe nie; want as julle na die vlees lewe, sal julle sterwe, maar as julle deur die Gees die werke van die liggaam doodmaak, sal julle lewe. Want almal wat deur die Gees van God gelei word, dié is kinders van God.

`n Ware Christen is iemand wat deur die Gees van God gelei word. Ten einde in daardie Gees te groei, (wat benodig word om God te gehoorsaam en om te groei om al hoe meer soos Hy te word), put `n ware Christen uit die Heilige Gees deur gereelde gebed en Bybelstudie asook, by geleentheid, deur te vas. Christus het Sy dissipels geleer om te bid, (Mat. 6:5-15; Luk. 18:1-14), en het `n voorbeeld gestel deur elke dag met gebed te begin, (Mrk. 1:35). Die Bybel is die "God-ge-ademde"woorde van God, (II Tim. 3:16; I Pet. 1:11-12), en is `n kragtige bron van God se Gees. Met verwysing na die woorde self, wat Hy gespreek het, het Christus gesê "die woorde wat Ek tot julle spreek, is gees en is lewe" (Joh. 6:63). Hy het ook die korrekte benadering tot vas geleer, (Mat. 6:16-18).

Iemand mag dalk vra, "Hoe pas geloof hierby in?" In hoofstuk 11 van Hebreërs, (baiemaal die "geloofshoofstuk" genoem), vind ons voorbeeld op voorbeeld van diegene wat "deur geloof" iets uitgevoer het wat God beveel het. In elke geval het daardie getroues hulle geloof gedemonstreer deur hulle gehoorsaamheid aan God. Geloof en gehoorsaamheid gaan ongetwyfeld hand-aan-hand, (Heb. 11:7-38; Opb. 14:12). Om te dink dat hulle op een of ander manier teenoor mekaar staan, is `n reuse fout. `n Ware Christen se geloof sal ten toon gestel word deur wat hy of sy doen, (Jak. 2:17-18, 26). Dit was Abraham se gehoorsaamheid aan God, deur geloof, wat hom "die vader van die gelowiges" gemaak het, (Jak. 2:21-24). Wanneer Christus terugkeer bring Hy Sy beloning saam en sal "elkeen...vergeld soos sy werk sal wees", (Opb. 22:12).

Ten laaste sal `n ware Christen, wanneer moontlik, gemeenskap hou met ander van dieselfde denke - weereens volgens die voorbeeld van Jesus Christus, (Mrk. 1:21; Heb. 10:25). Deur met mekaar gemeenskap te hou, hou Christene ook gemeenskap met God, (I Joh. 1:3) - gevolglik versterk hulle hul verhouding met God en groei in Sy Weg. `n Ware Christen demonstreer sy of haar liefde vir mekaar deur diens en deur, wat die materiële betref, aan die in nood te gee, (Mat. 25:31-46; I Joh. 3:17-18) - sowel as om vir mekaar te bid en mekaar aan te moedig, (Jak. 5:16). Al hierdie dinge gee uitdrukking aan die ware liefde van God.

Dit dan, is die Bybelse beskrywing van `n ware Christen - iemand wat, deur God se genade, weggedraai het van `n lewe van sonde en dood na `n lewe van liefde, gehoorsaamheid en goeie werke van geloof en versterk deur die Heilige Gees van God.


This document taken from the Christian Biblical Church of God website at: http://www.cbcg.org/

Christian Biblical Church of God © 2009

P.O. Box 1442

Hollister, California 95024-1442 USA 

Phone: (831) 637-1875

Fax: (831) 637-9616

 Contact Us via e-mail: http://www.cbcg.org/contactus.htm

Books